Die Ligstad na Magaliesburg treinrit 2018.

Op Vrydagaand 24 Augustus 2018, het twintig opgewonde laerskool senior leerlinge by Ligstad bymekaar gekom. Die aand is afgeskop met ‘n inspirerende gesprek rondom die feit dat ons ‘n regverdige God dien, maar in ‘n wêreld wat soms as baie onregverdig ervaar word. Daarna het die kinders hul eie pizzas voorberei, speletjies gespeel, malvalekkers oor die vlamme gebraai en hulself geniet saam met hul goeie vriende en vriendinne.

Die volgende oggend was almal al douvoordag uit die vere. Ons is almal saam treinstasie toe, waar ons op ‘n regte egte stoomtrein geklim het en al langs die spore Magaliesburg toe gery het. By Magaliesburg aangekom, het busse ons na die Sleepy River Resort toe geneem waar die kinders vlugbal gespeel het, middagete geniet het, terwyl sommige kinders ook die swembad se yskoue water aangedurf het. Ongelukkig kon ons nie lank op die oord kuier nie, want ons het ‘n stoomtrein gehad om haal terug huis toe. Teen 19:00 was ons terug by Ligstad en ouers het een vir een hul kinders kom haal. Dit was ‘n uitputtende uitstappie, maar een wat lank onthou sal word.

Ons uitstappie sou nooit moontlik gewees het sonder die hulp van ‘n groepie baie spesiale mense. Dankie aan Abram en tannie Cindy wie saam trein gery het en ons kinders help veilig hou het. Baie dankie vir tannie Alida Jooste wie die bus bestuur het en tannie Suretha van Straten vir die lekker middagete wat sy vir ons gereël het. Dankie vir die Ligstad Direksie wie toestemming gegee het dat ons die Ligstad-kinders so lekker kon bederf. Dankie aan ons kinders dat julle so soet was en die dag so spesiaal gemaak het. Dankie vir ‘n Hemelse Vader wie ons bewaar het op die pad en veilig tuis gebring het.

Leave a Comment

Translate »