GiG Jaarlikse Uitreik – ‘n Reuse Sukses.

Ligstad het onlangs vir die gemeenskap gevra om met wol donasies behulpsaam te wees om die seniors wat weekliks by Ligstad bedien word (die GiG groep – God is Groot) te help om genoeg items te brei vir hulle jaarlikse uitreik.  Die reaksie van die publiek was oorweldigend en het die dames wat gebrei het in staat gestel om 51 serpe, 45 stelle bedsokkies, 55 mussies en 2 onderbaadjies te maak.  Ligstad kan die gemeenskap van Alberton en elke stel hande wat gebrei het nie genoeg bedank nie.

Bykomend tot die breiwerk is skenkings van persoonlike higiëne items en ander bederfies sowel as genoeg lekkergoed vir 110 lekkergoedpakkies geskenk.  Die items is Donderdag, 17 Mei 2018, geneem na die Pioneer Tehuis vir bejaardes in Vanderbijlpark waar 120 staatspensionarisse en 150 ander persone aan wie kamers verhuur word om fondse te genereer ten einde die tehuis te befonds, woon.

Die bejaardes is bederf met die items wat bymekaargemaak is.  Tydens die oggendtee-geleentheid het Anna Theunissen, wat as vrywilliger aan’t stuur van die GiG groep staan, vir die bejaardes genoem dat hierdie gebaar van omgee en die bring van Jesus se lig en liefde aan hulle deur oorlede Cecelia Pfeiffer geinisieer is in 2016.  Sy is Januarie 2017 oorlede en ter nagedagtenis aan haar word hierdie projek jaarliks aangepak.  Peter Rossouw het die seniors vermaak deur twee pragtige liedere vir hulle te sing en niemand het die oggend teruggekeer na hulle kamer sonder ‘n gebreide item of twee, ‘n bederfie en ‘n pakkie lekkers nie.

Danksy die gemeenskap van Alberton het Ligstad die voorreg gehad om getuie te wees van ‘n “vermeerdering-van-brood-ervaring” wat net tot verdere inspirasie dien vir die werk wat ons by Ligstad doen.

Leave a Comment

Translate »